The Breed 
HOEKOM MOET U IN ONS BELÊ
---------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Afrikaner: Die beesvleisras vir Afrika

Huidiglik propageer dierewetenskaplikes die idee dat die beesindustrie in vader- en moederlyne verdeel behoort te word. Gevolglik vereis die industrie ’n moederlyn met ’n klein tot medium liggaamsbou om met ’n bul van groot liggaamsbou gepaar te word om ’n swaar speenkalf te produseer. 

Die volgende eienskappe van die Afrikaner maak dit ’n gewilde moederlyn:

  • Weens die relatief klein geboortemassa van die kalf (30 tot 35 kg) en die spesifieke vorm van die agterstel ervaar die koei selde moeilike kalwing.

  • Die koei is vrugbaar en het ’n lang, produktiewe lewe. 18-jarige koeie wat 15 kalwers gespeen het, is nie ongewoon nie.

  • Sy is ’n goeie moeder en beskik oor ’n goeie temperament, lae kalfmortaliteit en uitstekende loopvermoë. Sy speen ’n swaar kalf in ’n kruistelingsprogram.

  • Die koeie het  ’n klein tot medium liggaamsbou en is ekonomies weens hulle lae instandhoudingsvereistes. Eksperimente by die Glen Landboukollege uitgevoer, het getoon dat 100 Afrikaner-koeie met kalwers was in staat om beter te aard in vergelyking met 80 Taurus- koeie met kalwers op soortgelyke weidingsveld.

  • Die Afrikaner is gehard, aanpasbaar, maklik hanteerbaar en weerstandig teen siektes, veral luisdraende siektes.

Die rol van die Afrikanerbul

’n Groot persentasie van die kommersiële koeie in hierdie land is kruisgeteelde koeie, met grootliks ’n medium tot groot liggaamsbou. Onder die groot liggaamsboutipes is daar dikwels ’n toename in die voorkoms van probleme soos mindere aanpasbaarheid en moeilike kalwing, terwyl koeidoeltreffendheid ook gewoonlik laer is. Dit is wys om ’n bul van ’n ander moederlynras by hierdie koeie te gebruik om die kwaliteit van die vroulike aanteelt te verbeter.

Huidiglik propageer al hoe meer dierewetenskaplikes die idee dat geen ander sisteem die een kan klop wat osse reg vanaf die veld bemark nie. ’n Groot hoeveelheid telers is van mening dat ’n os net soveel soos ’n koei eet. Daar is egter ʼn groot verskil in hulle onderskeie onderhoudingsvereistes.  

Die proteïenbehoefte van ’n 350 kg os is 330 g/dag, terwyl die van ’n 350 kg droë koei 340 g/dag is; vir ’n swanger koei met dieselfde massa is die proteïenbehoefte 444 g/dag, en vir ’n melkgewende koei is dit 721 g/dag. Gevolglik is dit nie net moontlik nie maar ook meer winsgewend om twee osse eerder as een melkgewende koei te besit.

Die Afrikaner is een van die beesvleisrasse wat binne die kortste tydperk vir verkoopsdoeleindes gereed gemaak kan word. Basies is dit die enigste ras wat binne die mees wenslike ouderdom van die veld afgehaal kan word. Die Afrikaner se karkasmassa wissel ook om die ideale karkas te produseer. In die voerkraal is die Afrikanerras bemarkbaar in die kortste tydperk: 102 dae in vergelyking met ʼn gemiddeld van 111 dae (Sandfontein voerkraal). Gevolglik kan Afrikanerbulle effektief in kruistelingsprogramme gebruik word, veral in die geval van die maerder rasse wat moeilik is om van die veld af te haal.    

In ’n kruistelingsprogram met ander vroeg volwasse rasse, soos die Hereford, Angus en Sussex, kan osse af vanaf ’n ouderdom so vroeg as 18 maande van die veld af bemark word.

Mnr. Thys Fourie van Daniëlskuil gebruik Hereford-bulle op ’n gedeelte van sy Afrikanerkoeikudde. Op die oorblywende aanteelt gebruik hy Afrikanerbulle om slagosse te teel wat direk vanaf die veld bemark kan word. In ’n eksperiment waar Afrikanerbulle op 100 Afrikaner- x Hereford-koeie gebruik is, het hy die volgende resultate behaal:

  • Interkalfperiode 367 dae;

  • Die osse is direk vanaf die veld bemark en 25% van die osse was teen ʼn ouderdom van 18 maande gereed. Die gemiddelde lewende massa was 380 kg en die karkasse het ’n gemiddeld van 200 kg Super A en A1 getoon.

  • Die oorblywende osse is op die ouderdom van 26 maande van die veld af bemark met lewende massas van tussen 480 en 530 kg en karkasmassas tussen 250 en 280 kg. Weens die feit dat ’n groot hoeveelheid van die karkasse oorgewig was, is hulle Prima B en B1 gegradeer.

Die lang, produktiewe leeftyd (12 jaar en langer) en lae mortaliteit van Afrikanerbulle is ’n groot voordeel. Afsakking- en mantelvliesprobleme is minimaal (Eksperimente: Universiteit van Pretoria).

Die ras beskik oor een van die mees gunstige korrelasies tussen voeromskakelratio en gemiddelde daaglikse opbrengs (Eksperimente: ADSRI, Irene).

Dit is vleis van hoë kwaliteit en sag, smaaklik en sappig. In ’n kruistelingsprogram verbeter die Afrikaner die kwaliteit van die vleis van die ras waarmee dit gekruis word, veral wat die sagtheid van die vleis aanbetref (De Bruyn, ADSRI, Irene).

Eksperimente uitgevoer by die Omatjenne Navorsingstasie het getoon dat die Afrikaner, wat gradering betref, die beste uit vyf rasse is. Weens die beter gradering was die inkomste/karkas van die Afrikaneros die hoogste: 15% hoër as drie van die ander rasse en 26% hoër as die vierde ras.

Opreggeteelde en Afrikaner-ruisgeteelde osse lewer kampioene op die hoef en aan die haak op groot skougeleenthede in die interras slag-oskompetisies aangebied deur die Vleisraad.

   
  
 
 

                                                                             

 

                
© 2009 - 2011 The Afrikaner Cattle Breeders' Society of South Africa    •    Terms & Conditions and Privacy Policy    •    Website designed, hosted & maintained by 123 Internet