The Breed  INLEIDING TOT DIE RAS

---------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Twee konformasietipes van die Afrikanerbeesras, dit wil sê silindries en plat, is ten opsigte van groeiprestasie, en karkas- en vleiseienskappe vergelyk.

Aan die begin van die toets is die twee tipes deur blote visuele beoordeling onderskei. Die legitimiteit van so ʼn onderskeid sal bespreek word.

Die toetsprosedures is voor die aanvang van die eksperiment met die Telersgenootskap bespreek en het die volgende behels:

  • Ses-en-dertig Afrikaner speenkalwers, 18 van elk van die twee tipes wat onderskeidelik ewekansig in 4 groepe van 5 diere elk georden is (verwysingsgroep = 3 diere). Met die uitsondering van die verwysingsgroepe wat aan die begin van die toets geslag is, is die dier onder intensiewe voertoestande gehou en onderskeidelik op 300, 340 en 380 kg geslag. Groeikoers en voerdoeltreffendheid is tydens die groeiperiode gemeet.

  • Met die behaling van die gespesifiseerde slagmassas is die diere in die gespesifiseerde slaggroep geslag en is al die slagdata (massas van al die dele van die vyfde kwart en die karkasmassa) en die karkasdata (karkasmates en karkasweefselmassas) aangeteken. Sekere monsters is geneem en die totale karkassamestelling en weefselverspreiding is bereken.

  • Monsters is onmiddellik na slagting geneem en die tyd van karasverwerking is geevalueer ten einde die vleiskwaliteiteienskappe van elkeen te beskryf.

    Aangesien die diere op verskillende slagmassas geslag is en dus op verskillende stadiums van karkasrypheid, is ʼn poging aangewend om die verskillende kwaliteite op dieselfde stadium van karkasrypheid te vergelyk. Derhalwe is ʼn kovariansieanalise gebruik en onderhuidvet is as kovariant gebruik as dit ʼn statisties beduidende effek op die kwaliteit wat gemeet is, getoon het. Dit beteken dat alhoewel hierdie diere op verskillende slagmassas geslag is (en dus vet- en karkasrypheid), is die vergelyking getref tussen die twee verskillende konformasietipes in dieselfde onderhuidvetklas, soortgelyk aan die klassifikasiestelsel. As die vergelyking ten opsigte van dieselfde slagmassa of voerdae gemaak is, sou die later rypwordingstipes voordeel getrek het. Met onderhuidvet as kovariant is ʼn poging gemaak om diere op dieselfde stadium van karkasrypheid te vergelyk.

GROEIPRESTASIE

Gemiddeldes vir groeiprestasie word in Tabel 1 aangebied.  Nóg karkasvetheid nóg die aantal voerdae het enige beduidende effek op die groeiprestasie van die twee tipes gehad. T-2 het gemiddeld langer geneem om die verskillende teikenmassas te bereik, maar dit is as gevolg van die feit dat hulle beginmassa laer was as dié van die T-1 groep. Groep T-2 was ook aan die begin van die toets vetter, wat aandui dat hierdie groep moontlik ʼn vroeër rypheidtipe is as T-1. Hierdie punt sal later in die dokument meer volledig bespreek word.

TABEL 1 - GEMIDDELDES VAN GROEIKWALITEITE VAN TWEE AFRIKANERTIPES

 Kwaliteit  Tipe 1  Tipe 2
 Groeikoers(kg/dag)  0.98  0.95
 Voeromskakeling (kg/dag)  8.5  8.8
 Staandae  129  154
 Inname per dag (kg)  8.2  8.3

SLAG- EN KARKASKWALITEITE:

Alle slag- en karkaskwaliteite word onderskeidelik in Tabel 2 en 3 aangedui. Tensy anders aangetoon, word die twee tipes met mekaar teen konstante onderhuidvet vergelyk. (% onderhuidvet = 4.9% dit wil sê, vetkode = 2+)

TABEL 2: GEMIDDELDES VIR SLAGDIERKWALITEITE VAN TWEE AFRIKANERTIPES.  ONDERHUIDVET% = 4,9%

 Parameter  Tipe 1  Tipe 2
 Slagmassa (kg)  335  326
 Karkasmassa (kg)  182  174
 Slagpersentasie (%)  54.3  53.4
 Kop (%)  6.6  6.7
 Hoewe (%)  2.7  2.8
 Maag (%)  6.3  6.4
 Huid (%)  3.5  3.6
 Netvet (%)  0.73  0.59
   

Ten spyte van die groot numeriese verskille, slagmassa, karkasmassa en slagpersentasie, was hierdie verskille nie statisties beduidend nie. Die waarskynlike rede hiervoor is die groot variansie in hierdie kwaliteite in die tipes (d.w.s. dat die variasie rondom die gemiddelde groot is). Daar is ʼn tendens dat T-1 ʼn hoër karkasmassa as T-2 lewer (teen ʼn hoër slagpersentasie) teen dieselfde karkasvetheid (onderhuidvet = 4,9%). Hierdie hoër slagmassa (dieselfde vetheid) dui op ʼn later karkasrypheid vir T-1 ten opsigte van T-2. Volgens De Bruyn (1991) kan die verskil in slagpersentasie toegeskryf word aan die verskil in slagmassa, aangesien slagpersentasie grootliks massa- en vetafhanklik is. Die vergelykings is teen dieselfde vetheid gedoen en derhalwe is die slagpersentasiemassa afhanklik. Die een persent verskil in slagpersentasie is gelyk aan ongeveer 3 kilogram karkasmassa.

Volgens Tabel 3 was daar geen beduidende verskille in karkaseienskappe tussen die twee tipes nie. Die % been en vleis het geneig om onderskeidelik hoër en laer te wees in T-2 karkasse in vergelyking met T-1 karkasse. Soos reeds genoem, het die beginmassa en karkasmassa van T-1 ook geneig om hoër as die van T-2 te wees, wat ʼn aanduiding is dat T-1 ʼn later rypheidgroep diere was. Met rypheid bedoel ons dat diere van die T-1 groep ʼn hoër karkasmassa teen bemarkbaarheid sal bereik het (bv. Vetkode 2) as diere van die T-2 groep. Volgens De Bruyn (1991) het karkasse en later rypheidtipes proporsioneel meer vleis en minder been teen dieselfde onderhuidvet as die vroeër rypheidtipes, wat in hierdie toets gedemonstreer is. Vleis word gedefinieer as die hoeveelheid spier, interspiervet en intraspiervet. Volgens die verskillende vetparameters, (omentumvet, niervet, karkasvet en marmering) het T-1 slegs een betekenisvolle verskil van T-2 gehad en dit is wat betref niervet, terwyl die ander vetparameters ook aangedui het dat T-1 meer intraspiervet (marmering), netvet en totale karkasvet gehad het. Hierdie verskille was egter nie beduidend nie.

 Parameter  Tipe 1  Tipe 2
 Karkasmassa (kg)  182  174.2
 Karkaskompaktheid (kg/cm)  0.76  0.74
 Agterkwartkompaktheid (kg/cm)  0.62  0.58
 Oogspier area (cm)  70.9  66.4
 Nier- en slagaarvet (%)  2.0a  1.7b
 Marmering (%)  0.52  0.50
 Karkasvet (%)  13.5  13.1
 Spier (%)  70.7  70.9
 Vleis (%)  79.3  78.7
 Been (%)  15.8  16.4
 Duur vleissnitte (%)  43.7  43.9
 Goedkoop vleissnitte (%)  30.8  30.4
 Buik stuk vleis (%)  19.2  19.2
 Skeen (%)  6.4  6.5
 Spier/beenverhouding  4.5  4.3
 Vleis/beenverhouding  5.1  4.8

a b Gemiddeldes in dieselfde ry met verskillende opskrifte, betekenisvolle verskil (P<0,05)

Ten opsigte van die verspreiding van vlies oor die verskillende snitte van die karkas, kan dit genoem word dat gemiddeld 44% van die totale vleis in die duurder snitte in die agterkwart en lendeskyf voorgekom het. Die oorblywende 54% is soos volg versprei: 31% van die goedkoper snitte van die rib, nek en skouer, 19% in die diklies en borsstuk en 6% in die skeensnitte. Daar was geen betekenisvolle verskil tussen die weefselverspreiding (vleis) van die twee tipes nie.

Die klaarblyklike verskille in karkasrypheid tussen die twee groepe kan soos volg vertolk word. Die feit dat die beginmassa van die T-2 groep gemiddeld laer was as dié van T-1 kan eenvoudig beteken dat hierdie groep diere ligter gespeen het. Verder, volgens navorsing wat gedoen is oor rypheidtipes (ongepubliseer), sou dit beteken dat op dieselfde massa in die groeifase (bv. 300 kg) T-1 diere meer vet sou neerlê as T-2 wat ʼn hoër massa gehad het toe voeding begin het. Die % onderhuidvet het ook tussen T-1 en T-2 verskil (4,2 vs. 5,0%). Met hierdie argument word geïmpliseer dat diere wat op ʼn laer massa begin, vroeër vet sal neerlê as dieselfde tipe diere wat op ʼn hoër massa begin het. ʼn Mens kan nie met sekerheid sê dat daar rypheidtipe verskille tussen die twee groepe was net omdat een groep minder as die ander een geweeg het toe hulle die toetse begin het nie, omdat die voorspeenomstandighede van die 2 groepe nie noodwendig dieselfde was nie.

VLEISKWALITEITEIENSKAPPE:  GEMIDDELDES VIR VLEISKWALITEIT-EIENSKAPPE WORD IN TABEL 4 AANGEDUI

 Parameter  Tipe 1  Tipe 2
 Sensoriese eienskappe     
 Aroma  6.3  6.6
 Sappigheid  4.7  5.0
 Sagtheid  5.7  5.6
 Oorskot  5.4  5.3
 Smaak intensiteit  6.2  6.3
 Af smaak  7.1  7.1
 Kookverlies  31.9  33.9
 
 Meganiese sagtheid Istron (N/2,5 cm boorwydte)
 Droë hitte kookmetode  88.4  96.4
 Vogtige hitte kookmetode  90.4  99.3
      
 Verouderingspotensiaal
 1 dag  115  113
 7 dae  133  130
 14 dae  132  126
 
 Histologiese eienskappe
 % Rooispierweefsel  35.9a  34b
 % Intermediêre weefsel  29.5  28.6
 % Witsspierweefsel  34.6a  37.1b
 Oppervlak rooispierweefsel  2716  2861
 Oppervlak Intermediêre weefsel  3696  2641
 Oppervlak witspierweefsel  5297  5823
 Sarkomal (mikron)  1.8  1.8

a, b, c, d Gemiddeldes in verskillende getalle in opskrif – verskil beduidend (P<0.05)

Volgens sensoriese beoordeling was daar geen beduidende verskil in die verskillende eienskappe tussen die twee tipes nie. Die twee fisiese metings van vleissagtheid dui aan dat die vleis van T-1 geneig het om sagter te wees as dié van T-2. Dieselfde spier is vir beide metodes gebruik (M. longissimus thoracis) Die sensoriese monster word deur middel van ʼn droë hitte metode in ʼn oond teen konstante temperatuur voorberei, terwyl die ander monster in ʼn PVC-sak in water (70 grade C) verhit word. Die gemiddeldes wat egter deur beide metodes verkry is, was nie beduidend verskillend nie. Die biochemiese en histologiese eienskappe van die spier hierbo genoem, het effens verskil, maar weereens was die verskil nie beduidend nie. Die verouderingspotensiaal, gemeet volgens die miofribrillar fragmenteringsindeks, het geneig om hoër in T-1 te wees na 1-, 7-en 14-dae-periodes. Volgens hierdie meting het die vleis van T-1 ʼn 5% hoër potensiaal om in die rypwordingsproses sagter te word as dié van T-2. Die histologiese beskrywing van spierweefseleienskappe, dit wil sê verhouding en grootte van wit intermediêre en rooispierweefsel was verskillend tussen die twee tipes. Die relevante spier van die T-1 het meer rooiweefsel (6%) en minder wit weefsel (7%) (P<0,05) as dié van die T-2 groep gehad. Verder was die grootte van die witweefsel 10% kleiner in T-1. Volgens Dreyer et al. (1977) en Calkins et al. (1981) word vleissagtheid negatief gekorreleer met witweefselgrootte en hoeveelheid. Op grond van biochemiese eienskappe kan daar dus verwag word dat die vleis van T-1 sagter moet wees as dié van T-2.

Die feit dat, ten spyte van meer biochemiese en histologiese verskille, daar nie ʼn beduidende verskil in vleissagtheid tussen die twee groepe was nie, is bewys daarvan dat vleissagtheid deur ʼn verskeidenheid faktore beïnvloed word. Dit kan ras, tipe dier, maar ook verskeie omgewingseffekte (hantering tydens en na slagting) insluit. Die effek van die verskille in biochemiese en histologiese eienskappe was dus waarskynlik nie groot genoeg om verskille in sagtheid te bewerkstellig nie.

TUSSEN-RASVERGELYKINGS

SLAGDIEREINSKAPPE

Die karkas en karkaskwaliteiteienskappe van verskillende rasse, wat onder dieselfde toestande getoets is, sal nou bespreek word.

 Die doel van hierdie bespreking is nie om die Afrikaner met ander, hoofsaaklik later rypwordingsrasse ten opsigte van prestasie-eienskappe te vergelyk nie, maar om aan te toon dat verskillende rasse elkeen op sy eie gebied presteer.

TABEL 5:  KARKASKWALITEITE VAN DIE AFRIKANER EN 4 ANDER RASSE VAN VERSKILLENDE RYPHEIDSTIPES (VERGELYKING OP KONSTANTE ONDERHUIDVET % – 4,7%)
                 

 Eienskap  Afrikaner  Ras 1  Ras 2  Ras 3  Ras 4
 Slagpersentasie  54.2a  57.7bc  57.4bc  56.5b  58.7c
 Karkasmassa (kg)  176a  236bc  258cd  238bc  280d
 Karkaskompaktheid (kg/cm)  0.76a  0.95bc  0.99cd  0.93bc  1.06c
 Boudkompaktheid (kg/cm)  0.61a  0.79bc  0.82c  0.77bc  0.89d
          
 Karkassamestelling
 Vleis (%)  79.4b  80.2b  79.8b  78.3a  80.2b
 Karkasvet(%)  13.3ab  14.9bc  21.8e  18.1d  17.1cd
 Been (%)  15.9a  15.1a  15.5a  17.0b  15.1a
 Vleis-tot-been-verhouding  5.0bc  5.4d  5.2cd  4.6a  5.3cd
 Spier-tot-been-verhouding  4.5cd  4.7d  4.1ab  3.8a  4.5cd
 Nier- en kanaalvet (%)  2.04a  1.83a  2.55b  2.53b  2.51b
      
 Weefselverspreiding
 Duur snit (%)  40.7b  40.0b  38.8a  39.5a  39.4a
 Duur stuk vleis  43.8b  42.3a  41.5a  42.5a  42.1a

a, b, c, d Gemiddeldes van syfers aangetoon deur onderskrifte wissel beduidend (P<0,05)

Soos algemeen bekend, word die Afrikaner as ʼn vroeë rypheidsras beskou (karkasrypheid). Dit word ook in Tabel 5 bevestig, dit wil sê dat die karkasmassa op dieselfde onderhuidvet % van die Afrikaner beduidend laer was as dié van ander rasse. As gevolg van die eindmassaverskille het die Afrikaner ook betekenisvol minder (P>0,.05) as ander rasse uitgeslag. Volgens De Bruyn (1991) is die slagpersentasie hoofsaaklik massa-en vetafhanklik. Aangesien die huidige data teen konstante vetheid getoets is, sou die laer massa van die Afrikaner ʼn laer slagpersentasie impliseer. Spesifieke raseffekte sou ook voorkom. De Bruyn (1991) het bevind dat die Charolais en Brahmaan effens hoër slagpersentasies gelewer het as gevolg van ʼn lae huidmassa en ʼn lae verteringskanaalmassa.

KARKASSAMESTELLING:

Vanuit Tabel 5 kon afgelei word dat die Afrikaner die swakste vleissamestelling van die betrokke rasse het, op basis van die beduidende verskil (P>0,05) in karkas en boudkompaktheid tussen die Afrikaner en die ander rasse. Hierdie verskille beteken dat die ander 4 rasse (veral Ras 4) beduidend meer massa per karkaslengte as die Afrikaner het. Karkasmassa word egter uit been, vleis en vet saamgestel. As die ware eetbare opbrengs, dit wil sê vleis-tot-been- of spierverhoudings oorweeg word, het die Afrikaner beduidend beter gevaar as Ras 3 wat ʼn later rypwordingsras met ʼn hoër karkasdigtheid as die Afrikaner is. Verder het slegs Ras 1 ʼn beduidend hoër-vleis-tot-been-verhouding as die Afrikaner gehad. Die swak prestasie van Ras 3 kan toegeskryf word aan die hoër beenopbrengs. Dus kan die volgende gevolgtrekkings gemaak word:

  1. Konformasie is nie ʼn goeie maatstaf om vleisopbrengs in ʼn lewende dier of karkas te voorspel nie.

  2. Wanneer die ware vleisopbrengs oorweeg word, vaar rasse wat relatief vroeg rypword en dikwels ʼn swakker konformasie toon, nie noodwendig swakker as rasse wat later rypword nie. Dit op sigself beklemtoon die belangrikheid van werklike metings van eetbare opbrengs en die belangrikheid van die vind van akkurate maatstawwe wat vleis die opbrengs van lewende diere kan voorspel.

  3. Vleis-tot-been-verhouding neem toe met ʼn toename in karkasrypheid, met ander woorde, rasse of tipes wat ʼn hoë karkasmassa teen konstante vetheid produseer, sal oor die algemeen meet vleis per beeneenheid produseer as tipes wat vroeër ryp word (De Bruyn, 1991). Dit is egter moontlik dat spesifieke raseffekte mag voorkom, met ander woorde, dat vroeër rypwordingstipes of rasse goed mag vergelyk ten opsigte van vleisopbrengs per beeneenheid teenoor ander rasse. ʼn Ander belangrike aspek wat in Tabel 5 uitstaan, is die lae karkasvetopbrengs van die Afrikaner, veral relatief tot Rasse 2, 3 en 4.

  4. Hierdie vetparameter meet alle vet in die karkas, naamlik onderhuidvet (wat konstant 4,7% is), intraspiervet (marmering) en interspiervet. As dit aanmerking geneem word dat onderhuidvet konstant is, beteken dit dat die Afrikaner minder intra- en interspiervet in dieselfde vetkode as die ander rasse produseer. As die karkas opgesny moet word, sal die karkas van die Afrikaner ʼn hoër eetbare opbrengs lewer as dié van Rasse 2–4, aangesien minder vet tussen spiere voorkom. Dit is ook interessant om te merk dat die karkas van die Afrikaner relatief minder massa in die duurder snitte in die agterkwart dra, en dat daar relatief meer vleis as ʼn persentasie van die totale karkas in hierdie snitte is as wat die geval in die ander rasse is.

1.     NB – Opsommend kan gesê word dat, alhoewel die Afrikaner ʼn vroeë rypwordingsras is en derhalwe nie so voordelig is ten opsigte van karkasmassa toename of finale karkasmassa vir die sekondêre produsent nie (voerkraal), vergelyk die ras gunstig met die ander, groter geboude rasse wat alreeds in die Genotipe Evalueringsprogram getoets is. Ten opsigte van kruisteling kan hierdie eienskappe van die Afrikaner goed aangewend word in kombinasie met laterrypwordingsrasse of tipes.

TABEL 6: VLEISKWALITEITEIENSKAPPE VAN DIE AFRIKANER EN 4 ANDER RASSE VAN VERSKILLENDE RYPWORDINGSTIPES (VERGELYKING TEEN KONSTANTE ONDERHUIDVET % = 4,7%)
       

 Eienskap Sensories

 Afrikaner  Ras 1  Ras 2  Ras 3  Ras 4
 Sagtheid  5.7b  4.9a  5.8b  5.3ab  5.0a
 Oorskot  5.4d  4.8b  4.1a  5.0bc  5.1cd
     
 Fisiese, histologiese, biochemiese mates
 Snyweerstand (N/2.5cm)  88.4a  91.2ab  101.9cd  116.0d  95.65bc
 Rypwordingspotensiaal  130b  116ab        99.0a
 % Rooispierweefsel  35.6  33.6  34.3  34.8  
 % Intermediêre weefsel  29.5c  24.8b  26.4b  21.8a  
 % Witspierweefsel  34.8a  41.7cd  39.3bc  43.4e  

a, b, c, d Gemiddeldes met verskillende syfers in opskrifte verskil beduidend (P<0,05)

Die vleiskwaliteiteienskappe van die Afrikaner en 4 ander rasse soos aangedui in Tabel 6.

Vanuit hierdie resultate is dit duidelik dat die Afrikanervleis die sagste getoets het van al die rasse wat tot nog toe in die Genotipe Evalueringsprogram getoets is.

Beide die sensoriese eienskappe vir sagtheid dui hierdie voordeel aan, terwyl die meganiese meting van sagtheid (snyweerstand) dit bevestig. Dit impliseer nie dat die vleis van ander rasse taai is nie, aangesien snyweerstand meetings van <110N as aanvaarbaar beskou kan word. Slegs Ras 3 het hierdie vlak oorskry wat snyweerstand betref. Die sensoriese evaluerings van Ras 3 het egter aangetoon dat die vleis van hierdie ras goed met die ander rasse vergelyk.

Die voordeel wat die Afrikaner bo al die ander rasse geniet, kan waarskynlik in terme van histologiese en biochemiese eienskappe verduidelik word. Eerstens was die rypwordingspotensiaal van die Afrikaner onderskeidelik 12 en 31% hoër as dié van Ras 1 en 4 onderskeidelik. Daar kan dus afgelei word dat die Afrikaner waarskynlik ʼn hoër intrinsieke vermoë met verwysing na die ensiemsisteem het wat vleis tydens die rypwordingsproses sag maak. Daar word tans meer intensiewe navorsing ten opsigte van hierdie onderwerp met verskeie rasse gedoen, aangesien dit volgens die literatuur blyk dat vleissagtheid van die Sanga-tipes gunstig vergelyk met die Britse rasse, terwyl die vleissagtheid van sekere Indicus-rasse minder voordelig is. Dit is waarom die meganismes wat vleissagtheid bevorder wêreldwyd soveel belangstelling gaande maak, as gevolg van hierdie kontras tussen Sanga- en die Indicus-rasse.

Die histologiese eienskappe van die Afrikaner het ook van dié van ander rasse verskil. Die persentasie rooispierweefsel en intermediêre weefel van die Afrikaner is onderskeidelik 6 en 18% hoër as dié van Ras 1, terwyl die witspierweefsel 20% laer is as dié van Ras 1. Volgens Dreyer et al. (1977) en Calkins et al. (1981) het vleissagtheid negatief gekorreleer met witweefselgrootte en getal. Derhalwe is die Afrikaner ook in ʼn meer voordelige posisie wat hierdie eienskappe betref.

Die verbindingsweefseleienskappe (kollageen) was nie ten tye van die statistiese analise beskikbaar nie en sal so gou as moontlik as ʼn addendum tot hierdie verslag aangebied word. Die kwaliteit van vleis is afhanklik van ʼn groot aantal eienskappe, wat aan die dier gekoppel is, maar ook aan omgewingseffekte. Aangesien omgewingseffekte konstant gehou is tydens hierdie eksperimente, kan die verskille tussen die rasse grootliks toegeskryf word aan intrinsieke eienskappe en gevolglik oorerflike eienskappe. Die volle spektrum eienskappe wat vleiskwaliteit beïnvloed, is nie beskryf nie, maar volgens bekende resultate presteer die Afrikaner baie gunstig in vergelyking met ander getoetste rasse.

OPSOMMING EN GEVOLGTREKKING

  1. Die seleksie van konformasietipes op ʼn visuele basis het geen beduidende effek op die produksie en produksie eienskappe van die Afrikanerbeeste wat in hierdie toets gebruik is, gehad nie. Die visuele onderskeid tussen silindriese en plat konformasie het bloot die volgende tendense aangedui:

  2. Diere met ʼn beter konformasie het geneig tot later karkasrypheid, dit wil sê, dit het ʼn hoër karkasmassa teen dieselfde vetkode geproduseer. Hierdie diere het geneig om ʼn hoër % as diere met ʼn swakker konformasie uit te slag. Die karkasse van hierdie diere het ʼn geneigdheid tot ʼn beter vleis-tot-been-verhouding gehad, maar ook ʼn hoër totale karkasvetinhoud teen ʼn konstante vetkode. Diere met ʼn beter visuele konformasie het geneig om sagter vleis te produseer, as gevolg van, onder andere, ʼn beter rypwordingsvermoë.

  3. Rasse wat later ryp word (hoër karkasmassa teen konstante vetkode) het soos volg met die Afrikaner vergelyk:

Die slagpersentasie van hierdie rasse het geneig om (soms beduidend) hoër te wees as dié van die Afrikaner. Dit word bevestig in die vergelyking dat slagpersentasie massa-afhanklik is, met ander woorde, dat rasse met hoër finale massas (stabiele vetheid) oor die algemeen hoër slagpersentasie lewer.

Die later rypwordingsrasse het ʼn beter karkas- en agterkwartkonformasie as die Afrikaner gehad. In teenstelling was daar geen beduidende verskil in die spier-tot-been-verhouding tussen hierdie rasse en die Afrikaner nie. Verder was die totale karkasvet van die Afrikaner beduidend laer as dié van sommige van die later rypwordingstipes, terwyl die relatiewe vleis- en snitopbrengs van die duurder snitte van die agterkwart beduidend hoër was in die Afrikaner. Alhoewel verskeie produksie-eienskappe soos groeikoers, doeltreffendheid, finale karkasmassa en slagpersentasie van die Afrikaner nie noodwendig so voordelig soos in groter later rypwordingsrasse is nie, vergelyk die Afrikaner gunstig met later rypwordingsrasse ten opsigte van eetbare opbrengs.

Die vleissagtheid van die Afrikaner het besonder goed vergelyk met die rasse wat reeds in die Genotipe Evalueringsprogram getoets is. Hierdie voordeel kan aan die goeie rypwordingspotensiaal en spierweefseleienskappe van die Afrikaner toegeskryf word. Volgens De Bruyn (1991), het die Afrikaner ook besonder gunstig vergelyk met die Europese Hereford, Charolais en Simmentaler en het dit beduidend beter gevaar as die Brahman.

Vanuit hierdie resultate is dit duidelik dat die Afrikaner se vleis die sagste getoets het van alle rasse wat tot nou toe in die Genotipe Evalueringsprogram getoets is.

Bronne:

DE BRUYN, JF. Production and product characteristics of different cattle genotypes under feedlot conditions. D.Sc.- tesis, Universiteit van Pretoria.

DREYER, JH, NAUDÉ, RT, HENNING, JWN & ROSSOUW, EJ. 1977. The influence of breed, castration and      age on muscle-fibre type diameter in Friesland and Afrikaner cattle. SA Journal of Animal Sciences 7(171).

CALKINS, CR, DUTSON, TR, SMITH, GG, CARPENTER, ZL & DAVIS, GW. 1981. Relationship of fibre type     composition to marbling and tenderness of bovine muscle. Journal of Food Sciences 46(708).
          

  
 
 

                                                                             

 

                
© 2009 - 2011 The Afrikaner Cattle Breeders' Society of South Africa    •    Terms & Conditions and Privacy Policy    •    Website designed, hosted & maintained by 123 Internet